Soek die webwerf Soek die wiki Soek alle geskiedenis webwerwe

pointe
Bookmark and Share
Table of contents
No headers

mfecane_riviere.gifVir die meeste Afrika-gemeenskappe in Suider-Afrika het die 19de eeu konflik, ontwrigting, reorganisering en uiteindelik onderwerping ingehou. Toe die Griekwas noord van die Oranjerivier opduik, was dit soos ’n voorskou vir die Europese lewenswyse, oorloë en nuwe regering wat op pad was. Voordat hulle die volle impak van die Europese indringing kon ervaar, het die meeste gemeenskappe eers die onvoorspelbare swaarkry van die Mfecane beleef.

Letterlike vertalings van die woord Mfecane sê iets oor die veronderstellings agter die begrip. In ouer geskiedenisboeke was dit ’n tyd van “ontwrigting”, “vergruising” en “dwalende hordes” wat feitlik uitsluitlik deur Shaka en die Zulu aangevoor is. Nuwe interpretasies het met nuwe verdagtes vorendag gekom: Europeërs aan die Kaap en in Delagoabaai; en Europese surrogate soos die Griekwas op die hoëveld. Geskiedskrywers verskil oor die oorsake van die Mfecane, maar die gebeure in dié tyd het onmiskenbaar die politieke landskap in Suider-Afrika herskep.

In die tweede helfte van die 18de eeu en die eerste kwart van die 19de het dramatiese gebeure die aard van Afrika-gemeenskappe omskep en die demografie van Suid-Afrika verander. Dit is die Mfecane genoem (deur Ngunisprekendes) en op die hoëveld die Difaqane (deur Sotho-Tswanasprekendes). Voor die 1970’s was navorsers meestal van mening dat die groei van die Zulukoninkryk in Suidoos-Afrika onder Shaka teen die einde van die 18de eeu dié veranderings begin het. Sedert die vroeë 1990’s is daar nuwe menings. Daar word deesdae wyd aanvaar dat die Zulu beslis nie alleen verantwoordelik was vir die oorloë wat orals deur die kusgebied van Suidoos-Afrika en die binneland versprei het nie.

Historici is dit eens dat ander Afrika-gemeenskappe ewe sterk en vernuwend op die veranderende toestande in die laat 18de eeu gereageer het. Navorsers het besef dat die geografiese omvang van die proses uitgebreid was en dat dit die binneland van Suid- Afrika insluit. Die begin van die Mfecane is van sowat 1790 na die middel van die 18de
eeu teruggeskuif. Geografies gesproke is die sfeer van die Mfecane uitgebrei en sluit dit nou die gemeenskappe van die hele westelike hoëveld in.

Die botsings was ook nie uitsluitlik net tussen Afrikane nie. Toenemende Europese indringing in Suid-Afrika uit die Kaap en Mosambiek het ongetwyfeld die stabiliteit van die Afrika-gemeenskappe langs die kus en in die binneland ondermyn. Geskiedskrywers verskil egter oor die mate waarin die wittes vir die ontwrigtings van die Mfecane verantwoordelik gehou kan word.

 

Hoe het die Mfecane begin? 

Die wanorde versprei 

Die Difaqane op die hoëveld 

Waarom was daar ’n Mfecane?

Die oorgang van klein geslagslyne na proto-state

Die rol van die griekwas